seprator

om te skryf

seprator
28August 2017
blog_shape

 

toe het almal gestem: skryf lieze, skryf –
maar wat moet ek ink,
het ek gedink.
al wat ek hoor is die branders
wat jou as wegwas
en al wat ek sien
is die straf vir my sonde wat ek dien
dit is nie iets om neer te skryf op papier
vir almal om te lees of oor te lag nie.

skryf, lieze skryf –
sing almal dan weer oor en oor 
soos in ‘n koor,
maar al wat ek hoor is die 
suising van oor tot oor dwarsdeur
my skedel soos ‘n nimmereindigende
griffel teen klip wat kners en knars
op buitekant van spelonk
waar binne-eggos 
hol en leeg bly kreun 
om nooit op te hou karring
al is dit reeds teenaan die been

skryf, lieze skryf –
het ek myself hoor skree,
maar my rug gedraai
op ‘n haan se kraai
en alleen my bitterbrood gebreek
terwyl ek stadig sluk
aan my eie dors 
vir die beter brood om van te eet

skryf, lieze skryf –
hoor ek my eie stem se draal
jy moet bekeer en net weer
eenkeer finaal jou woordakkoord
die ruimtes in stuur met vuur
om hoop weer uit te koop
en geloof te vind
in dit wat is en was en weer sal wees

skryf so, lieze –
hoor ek stil en soet in my gemoed
want dit is vir jou gegee verniet
‘n nuwe lewe en ‘n lied
jou pad is afbetaal met bloed
jou skuld gedelg en jy is nuut
gemaak van voor af moet jy
skryf en sing:
jou redder leef


blog_shape
comma_first
"Skryf Lieze skryf"

Leave a Comment

shape
Copyright © 2015 Lieze Stassen. All rights reserved. Website by PC Hiccups | Graphics by Saake Botha
Translate »