seprator

JANUARIE 2014

seprator
13August 2015
blog_shape

Toe ek nog ‘n kind was in die 70’s, het die jaar 2000 vir my na een of ander alien konsep geklink. Dit het ‘n baie vreemde klank gehad en onbegryplik ver gevoel. Nou is dit reeds 2014 en klink niks meer vir my vreemd en ver nie. Ek het met die jare agtergekom dat tyd, hoe ouer mens word, vlerke groei en begin vlieg. En dat voor jy nog jou oog kan knip ‘n hele wêreld op sy kop kan beland. Ek het geleer dat verandering ‘n konstante is. Ek het geleer dat mens werklik net die oomblik waarin mens jouself bevind het. Gister is gedane sake en môre het sy eie oomblik. Ek het geleer dat ‘om die oomblik vas te gryp’ meer betekenis het as net ‘n oulike ding is om te sê.  Hoeveel van ons spandeer nie hopeloos te veel ‘tyd’ in ons gisters en môres nie en laat glip die oomblik deur ons vingers nie. En so sterf ons uiteindelik sonder dat ons ooit regtig gelewe het.

 

 

Dit laat my dink aan ‘n ou Joni Mitchell song  – The circle game – bekend gemaak deur o.a Tom Rush. As ek nou reg kan onthou dan lui die koorgedeelte as volg: “… and the circles they go round and round … and the painted ponies go up and down … we can’t return we can only look behind from where we came … and go round and round and round in the circle game … “  Alhoewel ek dink dit kan gevaarlik word om vasgevang te lewe in gister of – in dieselfde asem – net te lewe in ‘n droomwêreld van more, dink ek nie dis ‘n sleg idee om so nou en dan net terug te kyk en te onthou van waar ons kom, stil te gaan staan en seker te maak waarheen ons oppad is nie … en dan seker te maak dat dit waarmee ons onsself besig hou in ons elke dag se bestaan ewigheidswaarde het. (En hierdie is nou ook weer ‘n heel nuwe debat … so vir nou los ek laasgenoemde gedagte vir eers in die lug)

 

So van toeka af tot nou, Van THULA af tot by MY HART IS JOU GEBED, het my wêreld ‘n paar keer in die rondte gegaan en op sy kop gaan staan. Daar was tye wat ek swewend in ‘n droomwêreld van more kon bestaan en daar was tye wat ek vasgevang was in al die gisters van onthou. Vir n hele paar jare het ek wipplank gery tussen die twee pole van onwerklikheid. Vandag is ek oneindig dankbaar dat ek tog kon afglip van daardie wipplank en veilig op my voete kon land. Genade, genade genade. Nie my eie krag nie, maar deur die krag van Jesus Christus.  Ek kon weer my nou – my oomblik van waarheid – omhels … die wonder van elke sonsondergang en sonsopkoms ervaar. Ek kon weer lewe sien, ervaar en glo en daarmee saam was daar weer hoop. Want wat is ‘n lewe tog sonder hoop? Hopeloos … wat ‘n vreeslike sombere bestaan is dit tog nie. Ek het weer my note en woorde gevind en skielik het ek weer my stem ontdek, en daarmee saam die stem van geloof hoop en liefde.

 

2013 het my album – MY HART IS JOU GEBED – die lig gesien. Dit was vir my ‘n persoonlike deurbraak op meer as een vlak. Dit was vir my ‘n seën. Ek het deur die klanke weer kon terugkeer na dit waarvoor ek geskape was om te doen. Ek kon terugkeer tot diens aan my naaste, van wie ek myself te lank vervreem het. En nou in 2014 is ‘n uitvloeisel van hierdie werk ‘n splinternuwe album ‘n Album waaroor ek gebid het en ‘n brandende begeerte in my elke hartklop ervaar het. ‘n Album waarmee ek my dankbetuiging aan my Skepper kan betoon en met elkeen van julle kan kom deel.

 

 

Ek is kliphard aan die skryf en sif en het reeds begin met opnames. Die titel van my album is ook nog “under construction”, maar my hart jubel dat hierdie kans my gegun word en is ek so vreeslik dankbaar dat die beker van GENADE nie by my verby gegaan het nie. Dit kon met die knip van my oog so maklik wel gebeur het. Ek kon so maklik verstrik geraak het in my eie klein wêreldjie van wipplankbestaan. “Then sings my soul …. How great Thou art … “

 

Ek wens vir almal net die beste toe vir hierdie jaar. Ek bid dat almal se oë betyds en in tyd sal knip. Ek bid vir almal genade, vreugde, vrede en voorspoed toe en net die rykste seën. Ek bid dat ons almal ons note en woorde en klanke sal kan herontdek en sal jubel, al het die olyfoes gister misluk, het ons steeds die nou.

 

 

INKDINK-GROETE & SHALOM

LIEZE


blog_shape
comma_first
Insert Text HERE..

Leave a Comment

shape
Copyright © 2015 Lieze Stassen. All rights reserved. Website by PC Hiccups | Graphics by Saake Botha
Translate »