seprator

Januarie 2015 Vergewe en vergete die wểreld … alle paaie loop na Pretoria

  • Home
  • Inkdink
  • Januarie 2015 Vergewe en vergete die wểreld … alle paaie loop na Pretoria
seprator
13August 2015
blog_shape

Alhoewel ek baie dink, het ek in die laaste tyd minder ge-ink. Ek was druk besig met ateljeeopnames en skryf aan my nuwe album. Op die persoonlike front was daar ook groot verskuiwings – twee huistrekke in vier maande. Die een meer dramaties en traumaties as die ander. (Ander dag se storie) Uiteindelik bevind ek myself weer terug in Pretoria. Vir my geld die spreekwoordelike “alle paaie loop na Rome” letterlik met so ‘n klein verandering … “al my paaie loop terug na Pretoria”. Dalk kan ek ‘n liedjie sing wat iets klink soos : … “ my voete loop die wệreld plat, maar ek gaan Pretoria toe”….

 

Gelukkig kon ek teen Kersfees 2014 uiteindelik tog alles onder beheer hệ en net diep asemhaal. Egter nie voordat ek eers die plaas vir die dorp verruil het nie en binne ‘n week ’n inbraak gehad het en beide my rekenaars kwyt is nie. Ek dink hier teen Januarie 2015 besluit my liggaam net doodeenvoudig – soos ‘n ou tjor wat se vonkproppe gaar is – tot hier toe en nie verder nie. Ek voel so goor ek dink die einde is vir my om die draai. Almal om my is in ‘n toestand en half onbeholpe. Lieze wat siek is, is nie ‘n alledaagse ding nie. Lieze wat siek is, is nie maklik nie. Lieze wat dink sy is besig om te groet, onmoontlik. Dit was asof ek almal vir oulaas behoorlik en hard wou laat sweet.

 

Nadat ek almal ‘n lewe gely het, het my Rutkind my letterlik en figuurlik dokter toe gesleep. Ek beland vir ‘n goeie twee weke plat in die bed. Ek is baie jammer vir myself. Ek is siek, koorsig, lusteloos en moedeloos. Ek hoes myself in floutes in, roggel my keel rou in my slaap. My neus loop so erg dat ek dit sommer toestop met toiletpapier. Ek kry die bewerasies van die stoomoplossings waarmee ek myself moet stoom. As ek die stoom ‘n mis gee klink my bors soos ‘n ou transister-radio wat van die stasie af is. Ek mis my moeder en verlang na my kind. Ek wens my pappa kon my sy nuutse boeke kom wys wat hy ontdek het. Ek kry warm en ek kry koud. My haarverlengings koek soos “smocking’ teen my kopvel vas van al die gelệ en party ruk ek sommer met my handeuit van frustrasie. Ek huil oor my rekenaars en vreemde mense met kriminele vingers wat my briewe, joernale en gedigte kan lees. Ek kerm en kaiing oor ek soos ‘n walvis in my groot dubbelbed rondrol. Ek huil weer oor hoe duur dit is om dokter toe te gaan en oor hoe baie geld mens moet betaal om nie dood te gaan nie. Dan tel ek my kruiwa pille een vir een af en drink hulle net omdat hulle so baie geld kos. Ek huil omdat kunstenaars al hoe swaarder kry. Ek baklei met almal met my laaste ons krag. Julle wat my ken, weet dat ek diep gelowig is en werklik weet waar my krag vandaan kom, maar skielik is ek sommer daroor ook dom. Ek is nie lus om Paulus se briewe te lees nie en ek het nie krag vir Prediker nie. Ek staar na my versameling Bybels …. Vanaf 1933 vertaling tot by die NIV in groot druk. Ek besluit om maar net die Onse Vader op te sệ en Psalm 23 in my kop te resiteer en ‘delete’my dagstukkies soos hulle per epos inkom. Ek het nie lus vir enige iets wat my skuldig en net nog ellendiger laat voel nie. Ek het nie lus om te bely oor hoe aaklig ek met my geliefdes na aan my is nie, hoe ek worstel en wroeg met vergifnis teenoor die wat my te nagekom het nie. Ek besluit ek lệ sommer net en wees baie siek. Ek is opstandig en demonstreer dit met my geblaf, letterlik en figuurlik.

 

‘n Vriendin bring stapels ou tydskrifte. So hier teen die vyfde dag na die antibiotika – onder andere – sy werk begin doen, begin ek halfhartig rondblaai in tydskrifte vanaf 2008 tot die jongstes. So met die geblaaiery begin ek intens lees. Daar is ‘n groot versameling van tydskrifte. Skindertydskrifte en glanstydskrifte en estetiese baie mooi prentjie-tydskrifte met min leesstof. Daar is ‘n wye versameling tydskrifte. Sommiges maak my weer sieker voel en ander lig my gemoed. En skielik slaan dit my so reg tussen die twee oge: Alles waaroor gepraat en geskryf word, is oor die drie-dimensionele wệreld waarin ons onsself bevind. Alle fokus is op al die mensgemaakte mooi dinge van die wệreld, hoe mens nie sonder dit kan lewe nie en hoeveel beter dit mens sal laat voel. En dan is daar ‘n vreeslike geskinder en goedkoop gepraat oor die doen en late van “glinstermense”, wie doodgewoon vlees en bloed is soos ek en jy. En ek onthou ….. die volgende gedig:

 

Totius (J.D. du Toit) (1877 – 1953)

 

Die wêreld is ons woning nie.

Dit merk ek aan die son wat wyk,

en ‘k merk dit aan die reier wat

mistroostig na die son sit kyk

op een been, in die biesiesvlei.

En is die laaste strale weg,

dan rys ‘n koue op uit dié vlei.

‘n Koue gril deurhuiwer my;

en ‘k sien dit dan aan alle ding

wat in die skemer my omring,

die wêreld is ons woning nie.

 

Die wêreld is ons woning nie.

Dit sien ek as die bloedrooi maan,

van agter veldstof opgegaan,

nog net die kerk se dak bestryk

vanwaar ‘n uil, mistérie-stom

sit na die maan se skyf en kyk.

En nou dit stil word op die straat,

dink ek hoedat die middag laat

‘n lykstoet uitgekom het daar

waar nou die maan en uil ontmoet.

En ‘k merk dit dan aan alle ding

wat in die aandstond my omring,

die wêreld is ons woning nie.

 

Die wêreld is ons woning nie.

Dit voel ek as die wind ontwaak,

as die eikebome knars en kraak,

dit hoor ek in die fladdering

van voëltjies wat hul vlerke slaan

teen die verwarde boomtakke aan.

En as ek nader kom dan vind

ek by die maan se wisselstraal

‘n nes vol kleintjies deur die wind

omlaaggeslinger, dood, verplet.

Ek voel dit dan aan alle ding

wat in die nagstond my omring,

die wêreld is ons woning nie.

 

 

 

. En ek dink aan iets wat Oscar Wilde kwyt geraak het : “ It takes a great deal of courage to see the world in all it’s tainted glory and still to love it. “En dan …. onvermydelik … dink ek aan die mees bekendste Bybelteksvers … “ want so lief het God die wệreld gehad, dat Hy Sy eniggebore seun gegee het, sodat almal wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie,maar die ewige lewe mag hệ” (JOH 3:16).

 

Ek lees my tydskrifte … en die gedagtes spoel deur my gemoed. Ek sien oor ‘n paar jare se tydskrifte dieselfde publieke persone se verhale, groei, nederlae en oorwinnings. En ons almal staan hier in dieselfde wệreld. Ek besef weer hoe swaar dit is om groot te word in die publieke oog. Ek onthou. Ek sien, van ver en van buite , (deur koorsige waas) hoe ons weerloos slagoffers word van hierdie wệreld … wat nie eintlik ons woning is nie. Hierdie wệreld waarin ons so maklik en vinnig verdwaal, val en verval. Ek sien hoe hard ons werk aan die goedkeuring van die ‘wệreld’, hoe dapper ons eintlik is om dit te sien vir wat dit is en dit steeds te bewonder. Het ek gesệ: dapper? Of sou Oscar Wilde na ‘n veel dieper betekenis van “dapper” verwys het?

 

En skielik word ek wakker een oggend met voἓlgesang voor my kamervenster vanuit my nuwe piepklein tuintjie en verdoof dit die krasse stadsgeluide. Ek loer deur my vensters en sien die reuse Jakarandas bo die ses voet mure troon en die blouste hemel daarbo. Ek verlang skielik vreeslik na ou kwaai Paulus se geskrifte in die Groot Boek, na die Psalmskrywers se mooiste lofliedere , die Prediker se wysheid en na die verhaal van die grootste liefdesoffer vir hierdie ou verlore wệreld . Skielik is ek oorbewus van my dankbaarheid dat ek wel nog bietjie tyd geleen word om my hart te ondersoek en te doen wat ek moet doen. Alles wat ek is, is suiwer genade.

 

 

 

innerlike vrede

 

ek slaan my oἓ op na die berge

waar sal my hulp vandaan kom

die blou lug lyk hoog

lyk ver

die aarde gekors

en gekraak

 

in my are waar bloed nog vloei

my hart in my keel klop

hoor ek U stem

in U vrede se stilte

loop my beker oor

werp ek myself voor U voete

buig ek my hoof in

U heerlike teenwoordigheid

daar waar waters van rus is

 

binne U stilte

alomteenwoordig

raak die verstand groen weivelde

word vraag van onbegrip vaag

word verwyt

verwyder van die wond

en weet ek :

U liefde salf my hoof –

U goedheid en guns volg my

U is die vrede hier binne my

 

 

LSK Januarie 2015

 

 

Shalom … en baie inkdink-liefde

Lieze


Leave a Comment

shape
Copyright © 2015 Lieze Stassen. All rights reserved. Website by PC Hiccups | Graphics by Saake Botha
Translate »