seprator

“Kȏ lat ons sing” – Gereformeerdes, charismate en gatswaai

  • Home
  • Inkdink
  • “Kȏ lat ons sing” – Gereformeerdes, charismate en gatswaai
seprator
27August 2015
blog_shape

Ek kom uit ‘n huis met diep gelowige ouers. Ek het in die Namakwaland en Karoo groot geword. Gereformeerd. Ons is gedoop as babas in lang dooprokke met ‘fancy’ borduursels. Voorgestel en aangeneem, om volwaardige lidmate van die gemeente te word. Later is die kinders gekerk en hulle kinders weer in hulle ouers se dooprokke gedoop. Ons was stemmig en stil in die kerk. Eerbiedig en ordentlik. Ons het psalms en gesange gesing met baie versies. Ons het ook ‘n groen Hallelujah-boek gehad waaruit ons veral lekker gesing het. Ons het die woorde uit ons koppe geken. Klein-klein al. Ons het nie vreeslik hard of lank gedink oor hierdie groot dinge nie. Dit was deel van ons opvoeding, kultuur, tradisie,‘n daaglikse handel en wandel. Ons het nie getwyfel aan dit waarmee ons onsself besig hou nie. Ons het ook nie daaroor gestry en baklei nie.

 

In die Namakwaland het ek langs my moeder gesit op die gallery waar sy die kerk se pyporrel gespeel het. Daar het ek al my hande as ‘n vierjarige dogtertjie in die lug gegooi as die koor se basse dreun: “vir ewig en ewig …. Aaaaaammmmeeeennnn. “ Niemand het my platgetrek of kwaai aangegluur nie. In die Karoo was daar groot saamtrekke vir ‘n biddag vir reἓn. Groot manne het hoed in die hand hulleself in eerbied en met nederigheid hul nood-gebede tot hul hemelse Vader gerig. Ek het beleef hoe die hemele ooptrek. Niemand het getwyfel oor die groot genade van ‘n groot God nie.

 

Dit is nie ‘n geheim dat ek deur my kleurvolle reis en wilde esse deur die lewe uiteindelik my geestelike ankers gegooi het nie. Soos mens jou eie padjie begin uitkap en jou eie idees , ervarings en gewaarwordinge begin bymekaar maak, raak mens bewus van die feit dat almal nie dieselfde aanbid nie. Dan kom mens by nuwe dinge uit en mee gekonfronteer. Iets wat ek baie hard probeer om nie sómmer te doen nie, is om my vooroordele of tekort aan kennis, toe te laat om die oorhand te kry oor gesonde nuuskierigheid en moontlike groei. Ek hou nogal van, “ondersoek alles en behou die goeie.” So beland ek op ‘n keer heel ‘per abuis’ in die AGS Kerk. (Hierdie is nog ‘n ander storie vir ‘n ander keer) Ek sing die oggend so hard uit my hart uit saam, al die gereformeerd-vreemde liedjies, dat ek my swart mascara aan my man se spierwit hempsmou moet afvee. My neus ook. Hy syne ook. (Trane nou.) En dit nogal met ‘n ‘band’ wat speel, sonder ‘n pyporrel. Ons was drie maande in hierdie gemeente voordat ons weer verhuis het, maar nie voor ons gedoop is nie. (beide vir die tweede maal)

 

Ek het egter nie skielik begin ‘gospel’ sing en skryf nie. Gospel en ‘Bokkie’ sing was toe nog vir my apart van mekaar. Soos Saterdagaand-bioskoop en Sondagoggend-kerk. Maar soos die tyd verloop het en net na die vrystelling van MY HART IS JOU GEBED, kry ek ‘n roep in my gees – regtig – dat ek moet begin werk aan ‘n geestelike album. Ek was nogal effe onkant gevang. (Die is ook nog ‘n ander storie vir nog weer ‘n ander dag). Ek begin te skryf … en ontdek die wonderlikste poἓsie in Die Bybel self. Tydloos. Heilig. En so begin my skryf van geestelike musiek. Nie lank daarna nie begin ek opneem aan my album – tans onder die werkstitel – SHELTER FROM THE STORM. Die album het egter ‘n lewe van sy eie. En hy maak nie soos ons seg nie. Hy seg hoe ons maak. (Ons is tans so halfpad) Ek het besluit om hom nie te jaag nie, maar om dubbel seker te maak hy is wat hy moet wees. Ons is nie haastig nie.

 

Uit die aard van die saak begin ek ernstig navors en luister na nuwe geestelike musiek: ‘Prophetic Song’, ‘Freeflow’ , ‘ spontaneous worship’ en ménse, hier staan ek bietjie stil en ‘soak’ in hierdie nuwe niche wat ek ontdek. Ek beleef ‘n herlewing van die kerk. Oral pop daar selkerke op en kleiner, nuwe gemeentes en huiskerke. Ek vind nogal aanklank by die ‘worship’ en voor ek my oge kan uitvee, is ek ‘worshipleader’ by ‘n klein gemeente. Ek is die hele ‘band’ hier, ek en my digitale klavier. Hierdie klein gemeentetjie sing dat die biesies bewe. Hulle slaan op die tamboeryne, waai vlaggies, gooi hulle hande in die lug; en soms bid en huil hulle ook so in die oop spasies tussen die note. Groot manne en lawaaierige tannies, oupas en babas loof en prys die Here se grote naam. “Surrender All” begin vir my ‘n totaal nuwe geur kry. Om net my note en woorde te ken is nie meer al waaroor sing en speel gaan nie. Hier gebeur nou helemal iets anders. Elke snik wat diep gebệre was vir te lank in elke breἓ borskas, elke borrellaggie van onverklaarbare vreugde, elke noodkreet en elke danksegging kry sy plek op die notebalk in die blou, blou lug. Dit stuur my ook op ‘n reis wat my totaal uit my gemaksones vat.

 

Een Sondag het ons kerk beurtkrag gehad tydens die erediens. Ek het soos ‘n wafferse “cheerleader’ acapella die mense gelei in worship met ‘n vlaggie en ‘n tamboeryn in die hand. Dit was nogal ‘n ding vir my wat, as ‘n reἓl, redelik stil agter my klavier my stelling inneem. Alternatief? Moontlik. Het dit sy plek gevind? Vir seker. Ons het hande in die lug sommer ‘n klomp “hallelujas” en “prys die Here” uitbasuin. En skielik, te midde van hierdie vreeslike uit-die-hart-uit-die-vuis aanbidding, skiet die volgende gedagte my te binne: aitsa, maar kyk hoe lekker charismaties swaai hierdie gereformeerde nou gat! Vir alles is daar ‘n seisoen.

 

“Die evangelie wil nie skuldkomplekse opwek nie. Die evangelie is ‘n liefdesverklaring. Dit is nie ‘n vinger wat gewys word nie, maar ‘n vinger wat wink.” ~ Ferdinand Deist ~

 

Dit bring my uiteindelik by die vraag waarmee ek sit en worstel. Hoekom gebeur dit al hoe meer dat ons Christene van verskillende gemeentes en denominasies mekaar so bevlieg en briesend swaarde kruis. Dit laat my stilstaan by …” hy wat nie teen My is nie, is vir My” … Ek weet en glo dat ons nog net ten dele verstaan en eintlik alles beloer deur ‘n dowwe spieἓl. Ons is almal kinders van die Almagtige en verklaar almal soos een man ons verlossing en saligmaking deur Jesus Christus. Ons is elkeen uniek in ons wese en juis daarom is om saam te sing so ryk, kleurvol en kragtig. Ons bid elkeen ons eie hart se gebed, maar ons bid tot dieselfde God. Ons kan nie een genoeg getuig van genade onbeskryflik groot nie, maar genade met mekaar, die het ons nie. Lankmoedigheid, deernis en barmhartigheid het ons ook lankal ontgaan. Hoekom het dit so moeilik geraak om die onsekere stuiwer in die armbeurs te gooi vir bespreking in plaas van vir gevegte oor wie is reg en wie is verkeerd. Hoekom het woorde soos ‘bemoediging’ en‘lankmoedigheid’ in ons lewens so seldsaam geword? Of is dit nie ‘grand’ om soms net doodgewoon menslik, bemoediging en barmhartigheid te geniet en met beide hande vas te gryp nie.

 

“God is nie ‘n spioen nie. Dat Hy jou deur en deur ken, is ‘n troos: iemand wat omgee, wéét.”
~ Ferdinand Deist ~

 

My eie reisverhaal en getuienis is een van onbegryplike genade op genade. Ek het beweeg vanaf kwaadkat na spinkat. My wệreldse skatte het verweer, verroes en vergaan en my binneste skatkamers se bekers het begin oorloop. Ek is nie ‘n orrelis of sing in die koor nie, rig nie kore af nie, het nie skielik ‘n Pastorale- of Bybelskoolpapier agter my naam nie, sing nie skielik in komplekse harmoniἓe in heilige groepe nie, maar met dit wat die Here my gegee het, loof en prys ek Hom. Met my reisverhaal oor bergtoppe en deur ‘n dal van doodskaduwee getuig ek van Hom. Jesus is my Koning – dit is my roemtaal, dit is my lied. Daar waar ek gaan sal ek sing: ‘Alles wat ons is , is net genade.’ Ek sluit af met hierdie bekende gedig van Adam Small, en beaam, JA … “ kȏ lat ons sing”.

 

Kȏ lat ons sing

 

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan ! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soos met kerse ! –

 

toe antwoord Mosas en hy sệ: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sệ die Here het nie ga-appear aan my nie?

 

ma’ die Here sệ vi’ hom: djy sal djou mense lei
wat’s in djou hand?
en Mosas sệ: ‘n staf

 

nou vrinne
dit is al wat hy gehad het
hierie man van God
‘n staf
‘n dooie stok
en boenop het hy nog gehakkel ok

 

ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptenaar
en Mosas het sy grote kop laat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ‘n slang !

 

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar

 

kȏ, lat ons sing

 

 

Inkdink-groete & Shalom
Lieze
X

 

Aanhalings uit: Die son het vlerke: Ferdinand Deist – Tafelberg 1998
Gedig: Kȏ lat ons sing – Adam Small – Groot Verseboek: DJ Opperman – Tafelberg 1983


blog_shape
comma_first
" Jesus is my Koning – dit is my roemtaal, dit is my lied. "
  • Hoe meer ek van jou te wete kom, hoe meer verstaan ek hoekom jy my so diep geraak het.

  • Leave a Comment

    shape
    Copyright © 2015 Lieze Stassen. All rights reserved. Website by PC Hiccups | Graphics by Saake Botha
    Translate »