seprator

Om te bid of nie te bid nie …

seprator
28March 2017
blog_shape

Ek sit en lees seker die afgelope uur deur stringe en stringe debatte oor die onderwerp; en meer spesifiek die “groot gebid” op die 22 ste April. Voor ek my verder uitspreek – hierdie is nie ‘n debatsopening ‘vir’ of ‘teen’ enige een mens nie. Ook gaan ek nie ‘n verdere debat oopmaak oor Christendwaalleeer nie. Die veld is wyd en die koring reeds ryp. Ek het iets anders op die hart.

Alle wedergebore Christene het ‘n onbeskryflike groot geskenk ontvang van ons Hemelse Vader. Dalk het min of meer twee duisend jaar ons al so gewoond gemaak aan hierdie geskenk dat ons dit verwaarloos, afskeep of net nie meer na waarde ag nie. Dalk het ons so besig geraak met ons daaglikse bestaan dat ons ons geskenk bietjie “verle” het en naarstigtelik by ander wil gaan leen. Dalk glo ons dat ons geskenk verroes het en nie meer so glad loop nie. Dalk voel ons nie meer waardig om hierdie geskenk te kan gebruik nie en kyk ons desperaat na ander om dit namens ons weer in gebruik te bring. God is Genadig.

Hier’s die goeie nuus : dis nooit verlore nie. Al voel dit so en al het ons ons dae van struikel. Al lyk dit op die oog af of ander dalk bietjie heiliger as onsself is en al het ons vertroue in onsself verloor, moenie die leuen glo nie. Ek en jy MAG en KAN en MOET bid. Self, oral, enige plek, enige sekond en moment. Alleen in jou binnekamer, saam met n broer of saam met n suster. Saam met jou gemeente of net jou familie. In Pretoria in Kaapstad, Namakwaland of in die Karoo, dit maak nie saak nie. God kan Sy gebede bymekaar maak van reg oor die hele skepping. Hy is Alomteenwoordig. Hy is Almagtig.

Hierdie geskenk om te kan bid tot ons Hemelse Vader word nooit van ons teruggevat nie. Hierdie voorreg en toegang is vir elkeen gegee en daar is ‘n duur prys daarvoor betaal. Dis n geskenk om vrylik te kan gebruik. Ons hoef nie ‘n afspraak te maak of in n ry te gaan staan nie. Ons hoef nie ‘n aardse priester te soek nie. Ons hoef nie n vertoon te maak nie. Die krag van gebed is nie in ons nie, maar in God en in die bloed van die Lam. God se Gees is met ons en by ons. Altyd.

Al wat ons hoef te doen is om stil te raak, diep asem te haal en te se; Here … deurgrond my hart … en wanneer die woorde ons ontbreek, dan sal die Heilige Gees self intree vir ons.

So vanaand wil ek net se: moenie wag nie, moenie twyfel nie, moenie dat enige iets of enige een jou anders laat glo nie.. Moenie meer baklei as bid nie. – BID self. GLO.

Shalom
Lieze


blog_shape
comma_first
God kan Sy gebede bymekaar maak van reg oor die hele skepping.Hy is Alomteenwoordig. Hy is Almagtig.

Leave a Comment

shape
Copyright © 2015 Lieze Stassen. All rights reserved. Website by PC Hiccups | Graphics by Saake Botha
Translate »