seprator

NOOT & WOORD WERSWINKEL I

seprator
13November 2015
blog_shape

Noot & Woord-werkswinkel – 7 November 2015

Vir ‘n geruime tyd loop ek rond met hierdie inisiatief. Eers was dit ‘n dowwe gedagte, dit het al knaender geraak, maar ek het geen idee gehad hoe, waar en wie nie. In Oktober por my regterhand(Rut-kind) my aan: “Begin net!” Ek maak ‘n afspraak met Dr Fanie Marais en ons drink vir 3 ure lank koffie. Ek praat – soos ek doen – ononderbroke, terwyl ek heimlik wonder of Dr Fanie dalk dink ek is stapelgek. Sy gesigsuitdrukkings verraai niks. Op 7 November skop ons die eerste aflewering van ’n beplande reeks (met nog verdere vertakkings op die visiebord) af by hAp, Pretoria.

Gister en vandag sit ek in nabetragting met dankbaarheid en vreugde wat heerlik in unisoon klop met my hart. Ek is lief vir musiek, ek is lief vir woorde, ek is lief vir my mense, ek is lief vir die kunste, ek is lief vir my taal … ek is lief vir die Woord ek is sooo lief vir my Skepper wat ons almal uit die rykheid van Sy genade toebedien het met gawes.

Ek sal 7 November 2015 ‘bookmark’ as die dag waar digters en musikante hande geneem het. Ek sal dit onthou as ‘n dag van suiwer vreugde. Ek kan nie vir almal genoeg dankie se nie. Fanie vir sy glo en sy hart, Erna Jo Kritzinger vir mildelike aanbieding en deel van kosbare kennis, Helene en Nandie vir saamglo en daad by die woord sit, Susan en hAp, elke liewe deelnemer en my Rutkind – Chanel Terblanche – vir haar blinde geloof-soos-‘n-kind, harde werk en toegewydheid.

Die eerste vrugte is reeds in. Ek sien gedigte begin hulle nekke uitsteek en ek verneem van ander wat in note droom. Wat ‘n voorreg en wat ‘n seen om te mag deel wees hiervan. Mag ons saam groei en skryf en sing tot die kranse antwoord gee. Hierdie bymekaarkom van pole is wat my hart laat bars van vreugde. Dit is die mag van musiek. Dit laat tuimel mure en verskuif grense. Dit maak nie onderskeid nie. Dis soos die liefde.

Shalom -Tot die volgende een(keer) –

Lieze

 


blog_shape
comma_first
"Kom ons droom"

Leave a Comment

shape
Copyright © 2015 Lieze Stassen. All rights reserved. Website by PC Hiccups | Graphics by Saake Botha
Translate »